Opgestaan Publikasies
  • Huis
  • Opgestaan BLOG
  • Kraakvars Youtubes!!
  • In die Nuus
  • Kontak ons
  • Voorwoord
  • Hoofstuk 1
  • Resensies
  • Tydskrifte
  • Radio Onderhoude
  • Akademiese Blog

R  E  S  E  N  S  I  E  S

6 Maart 2012 - ‘n Tuks Ingenieur en voormalige kampusradio omroeper se resensie van Ferdie Mulder se Opgestaan - Coert Welman

Picture
Opgestaan deur Ferdie Mulder is ‘n baie dapper boek om te skryf omrede dit beskou kan word as ‘n verontskuldiging deur iemand wat skuldig bevind is aan oneerlikheid en omrede dit boonop nog gesien kan word as ‘n laaste desperate poging van ‘n vernederde student om gesiene professore se name swart te smeer. Dit is egter geeneen hiervan nie.

Dit is ‘n baie nodige vertelling van ‘n donker tyd in die geskiedenis van die NG Kerk van ‘n kant van die storie wat nooit voorheen geopenbaar is nie. Eensydige verslaggewing in die media, asook amptelike universiteits- en kerkverklarings het ten beste ‘n halwe storie vertel. Dit was eenvoudig nie die volle storie en nog minder die volle waarheid nie.

Opgestaan is ‘n boek wat baie maklik leesbaar geskryf is en wat ‘n baie ontstellende, hartseer en onnodige verhaal op ‘n saaklike wyse vertel. Dit kon bitter en nydig gewees het, maar is glad nie. Dit sluit selfs af met ‘n boodskap van hoop. Dit is ‘n moet vir elke persoon wat besorgd is oor die NG Kerk en veral ‘n boek wat elke voornemende teologiestudent moet lees.
Om Coert se meer omvangryke resensie te lees, maak die PDF hier onder oop:

coert_welman_-_resensie_van_opgestaan_deur_ferdie_mulder.pdf
File Size: 98 kb
File Type: pdf
Download File

25 Januarie 2012 - Anonieme NG teologie studente skryf oor Opgestaan:

Picture
i)"Hi Ferdie !!!
Ek het jou boek gelees en well done !!! Dankie dat jy opgestaan het vir dit wat reg is, dink dit was baie moeilik gewees en het jou baie dinge gekos, maar ek glo dit was die moeite werd.
Ek weet nie regtig wat ek sou gedoen het as ek saam julle teologie geswot het nie, eks eintlik bly ek swot dit nou eers, dink die storm het so bietjie bedaar."
ii)"Jou saak is suiwer en tot eer van ons God. En ek is agter jou. Ek is bly as ek jou opgewonde maak, maar ek moet vir jou se, ek is 'n nul op 'n kontrak sonder Jesus se genade! ... en ek raak soms doodsbenoud as ek aan die bediening dink wat vir my voorle. Maar een ding is vas en seker! Ons God is getrou. Hy sal ons dra tot bitter einde. En ek wil jou bemoedig Ferdie. As dit nie vir jou was nie sou geen haan ooit gekraai het oor ... wat in daai fakulteit aan die gang is nie. En dit is tyd dat ons opstaan en die waarheid verkondig, onbeskaamd! As God ons so lief het, hoe kan ons dan anders!"

2 Januarie 2012 - Resensie van Ferdie Mulder se opspraakwekkende boek "Opgestaan" deur Professor Johan Janse Van Rensburg van Bloemfontein

Picture
“Teologiese student geskors!” Dit het skokgolwe deur die N.G. Kerk gestuur. “Iets drasties, radikaal, skandelik moes gebeur het wat tot ‘n teologiese student se skorsing gelei het”, was die algemene gevoel. Die gebeure tussen 2001 en 2006 by die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria word in hierdie nuwe boek van Ferdie Mulder uitvoerig beskryf.
In die voorwoord het Ferdie sy intensies met die skryf van die boek breedvoerig bespreek. Sy teologiese stryd tydens sy teologiese opleiding het duidelik tot konflik gelei- interne konflik oor wat hy as leerstellige afwykings by sommige teologiese dosente waargeneem het en eksterne konflik met die betrokke dosente, die kuratorium en die Fakulteit. Die boek gee sy weergawe van die gebeure wat tot sy skorsing aanleiding gegee het.
Ferdie skryf nie uit bitterheid nie. Dit is ook nie sy doel of begeerte om die konflik weer te laat opvlam nie. Dit gaan vir hom oor sy onwrikbare geloof in die werklike opstanding van Jesus Christus. Sy erkenning dat die beskrywing van gebeure eensydig mag wees, toon sy gesindheid. Hy bely selfs dat hy tydens sy studie aan Durham en Cambridge Universiteit tot die insig gekom het dat hy meer genuanseerd moet dink en skryf en dat hy ook by dié met wie hy tydens sy teologiese opleiding verskil het, insigte kon leer.
Hierdie gesindheidsverklaring is uiters belangrik en bied die skrywer aan as die konteks waarbinne die boek geskryf is en gelees moet word. Wie dit nie lees nie, sal maklik tot die gevolgtrekking kom dat Ferdie “net weer probeer moeilikheid maak”.
Was dit wys of nodig om die gebeure rondom sy skorsing te boek te stel? Wie sou hom kon kwalik neem? Hy het die ergste skande oorgekom wat enige teologiese student kan vrees- hy is geskors en verbied om ooit weer aan die Teologiese Fakulteit (Pretoria) te studeer! Hy moes sy droom om predikant in sy geliefde N.G.Kerk te word, as gevolg van die skorsing laat vaar. Mense het daarvan gehoor en gelees en hulle opinie gevorm oor wat werklik gebeur het. Die outeur het nooit die geleentheid gehad om sy verhaal in die openbaar te vertel nie. As die boek nie verskyn het nie, sou die gebeure eenvoudig in die lug gehang en in die vergetelheid verdwyn het.
Toegegee, dit is nie ‘n boek vir elke leser nie. Nie almal sal in die teologiese intriges belangstel nie. Maar die boek is tog lesenswaardig om ‘n paar redes. Ferdie skryf onderhoudend en poog om so gedetaileerd as moontlik te wees in die beskrywing van gebeure. Daarom lees die vertelling soos ‘n dramatiese verhaal. Dink net, ‘n teologiese student in opstand teen sy dosente! Dis mos die materiaal waarvan rolprente gemaak word. Vir oningeligtes mag die teologiese debatte dalk moeiliker wees om te volg. Dit is egter nie só ingewikkeld dat die strekking van die diskoers nie gevolg kan word nie.
Soos die verhaal ontvou, is dit duidelik dat die outeur werklik uit oortuiging skryf en nie uit weerwraak nie. Sy motief is deurgans duidelik- om Skrifgetroue leersuiwerheid in die N.G.Kerk terug te bring. Juis hierin lê die waarde van die boek. Met die deurlees daarvan word ‘n aantal waardes baie duidelik op die voorgrond gestel. Allereers sal elkeen wat dit lees en die Here se Kerk liefheit, bid dat so iets nooit weer sal gebeur nie. Die boek laat jou met die sterk gevoel dat dit nooit moes gebeur het nie, dat sake na beide kante ook anders hanteer kon word. Verder word die huidige debat oor leerstellige suiwerheid in die Kerk, ‘n wêreldwye diskoers inderdaad, oopgevlek. Die huidige tendens om in die viering van diversiteit die diskoers só oop te maak dat alle standpunte en uitsprake (sélfs dié wat die kern van die evangelie aantas), te akkomodeer, het in die verhaal van hierdie boek reeds sy wrange vrugte getoon. As die Kerk nie hou by haar eie geskrewe belydenis nie, moet ons verwag dat nog meer lidmate en predikante “opstandig” sal word, natuurlik met bitter gevolge wat die Kerk eenvoudig nie kan bekostig nie. Die boek toon ook hoe belangrik dit is dat die kerk oor belangrike leerstellige verskille verdraagsaam en openlik sal praat. Hieroor is ‘n indringende gesprek nodig aangesien al hoe meer vreemde uitsprake in die openbaar gemaak word wat duidelik met die Skrif verskil en groot verwarring onder lidmate bring.
Die boek word aanbeveel vir almal wat meer sou wou weet oor die verloop van gebeure. Natuurlik is ‘n oop gemoed nodig. Dit vra die outeur trouens ook. Immers, nie hy of dié teen wie hy “opstandig” was, sal wil voorgee dat hy/hulle presies die volle waarheid weet nie.

30 Desember 2011 - Ds Chris Visser se omvangryke resensie van Opgestaan:

Picture
"Wat ’n boeiende en spannende boek, wat duidelik en onverskrokke getuig van dit waarvoor die skrywer staan! Ek beveel aan dat die Universiteit van Pretoria vir hom ’n ere-doktersgraad daarvoor gee! Ek het dit in die feestyd gekoop en kon dit net nie neersit nie. Kersdag was vir my die dag van grootste teleurstelling, toe ek die boek klaar gelees het en terugskouend daaroor moes besin. Die boek het baie emosies losgemaak. Ek het agterna vir Ferdie op Facebook geskryf:

“Ferdie, vandag op Kersdag jou boek “Opgestaan” klaar gelees ... was voorwaar 'n boeiende spanningsverhaal, beter as Deon Meyer op sy beste. Ongelukkig is dit  nie fiksie nie! Ek sê voorlopig dankie. Ek haal my klein hoedjie vir jou af. Ek is tans besig om daaroor te besin; sal graag later 'n mening oor dit alles wil skryf. Skokkend, hartseer, moedeloos, teleurgesteld, kwaad … dis alles emosies waarmee ek moes handel. Tans wil ek net sê: ek is seker die Here het jou deur die spesiale pyn-ervaring geneem met 'n doel. Hy gaan jou nog daardeur gebruik in Sy Groter Plan. Hy doen dit reeds. Bly net nederig gehoorsaam en beskikbaar vir Hom, Seënwense vir Kersfees!”

Ook my vrou, Sterna, het die boek na my gelees. Sy was ook vasgenael tot die einde … en het agterna die volgende woorde gebruik: Verraad in die binnekring! Subtiele aanslag op ons geloof!  ...." Om verder te lees, maak die PDF hier onder oop:

opgestaan_chris_visser_30_des_2011.pdf
File Size: 276 kb
File Type: pdf
Download File

* Ons kry letterlik dosyne terugvoerings vanoor Suid-Afrika oor ds Visser se resensie. Baie dankie vir al die woorde van bemoediging vir Ferdie en die saak waarvoor hy opgestaan het!

Desember 2011 - Anonieme NG predikant van Bloemfontein lewer kommentaar op Opgestaan:

Picture
Dit is moeilik om in een sin te sê hoe ek oor (Opgestaan) voel.  Dit was enersyds 'n hartseer en pynlike ondervinding om van soveel stryd en tweespalt oor die kosbare erfenis wat ons in die Woord het, te lees.  Dit is nog te meer hartseer en pynlik omdat dit veral oor die mense gaan wat leiding moet neem in die leer van die kerk en predikante moet oplei.  En oor jou wat met soveel erns en toewyding in jou studies jou daarop toegelê het om by die waarheid uit te kom.
 Aan die ander kant moet ek sê dat die boek my geboei het en eintlik soos 'n riller gelees het.  Ek kon dit net nie neersit nie. Ek het baie waardering vir jou eerlikheid en openheid waarmee jy die hele aangeleentheid uiteensit.  Jy het sover moontlik 'n objektiewe en getroue weergawe van die verloop van gebeure gedokumenteer.  Mens waardeer dit dat jy jou gegewens so boekstaaf as konkrete feite met verwysings.  Ek het werklik onder die indruk en die gevolgtrekking gekom dat dit nie 'n klomp galbrakery van 'n "verontregte" persoon is nie, maar dat jy so ver dit vir jou moontlik is, jou objektiewe weergawe maak.
 Ek is persoonlik lankal bekommerd oor die rigting waarin daar in die teologie ingeslaan word.  Mens het begrip en respek vir die bevindinge van die moderne wetenskappe.  Mens moet sekerlik meer as net daarvan kennis neem, maar dan moet jy steeds die basiese kan bely, byvoorbeeld:  "Ek het Jesus lief; Hy is my lig en krag."   As teologie so ingewikkeld word dat selfs 'n dux-student dit nie "verstaan" nie,  dan weet ek nie hoe die ander studente hierdie "nuwe geloofswaarhede" wat die teologie nou "aan die lig bring", eendag gaan preek nie!   Ek hoor dit gelukkig nog nie so erg duidelik in die prediking van die jonger predikante nie.  Moontlik vermy hulle hierdie onderwerpe in hul prediking wat hulle self dalk nog nie verstaan nie, of wat hulle self dalk nog verwar.
Wat ek wel met verontrusting in die prediking waarneem, is 'n tendens dat prediking eerder 'n soort akademiese lesing is oor aangeleenthede rondom die Bybel, in plaas van prediking van die Bybel self.  Te veel hoor ek dat mense met 'n vraag in die gemoed huis toe gestuur word.  Ek het al selfs gehoor dat 'n predikant aan die einde van 'n preek vir die gemeente sê:  "Julle het nou gehoor wat die probleem is.  Gaan worstel nou bietjie verder daaroor by die huis!"  Waar is die goeie boodskap van die Evangelie dan dat die antwoord en oplossing in Christus voorgehou word.  Dan sê ek telkens maar weer:  "Bring my die ou-ou tyding." Ek hoor self ook te veel dat teoloë oor die Bybel praat en selde uit die Bybel (aanhaal). 
My persoonlike standpunt is:
1.    Dat God die wetenskap vir ons daargestel het.  Hy het elke wetenskaplike wet in die skepping gemaak.  Daarmee bedoel ek: die wetenskap assulks, en nie noodwendig die standpunte van wetenskaplikes nie.  Ook wetenskaplikes se standpunt kan so deur hul eie vooraf-ingesteldheid gekleur word, dat dit sy eie opinie is en nie noodwendig die ware feite van die wetenskap is nie.  Ek het 'n kleintjie daaraan dood dat 'n fisikus byvoorbeeld 'n uitspraak oor die teologie maak deur te sê:  "Ek het dit in die fisika bevind.  Daarom kan God nie bestaan nie."
 Daar is vandag soveel kennis beskikbaar dat selfs 'n spesialis in 'n bepaalde veld moet erken dat hy maar net van 'n fraksie van die saak weet.  Hoe meer jy weet, hoe meer weet jy hoe min jy weet!   Daarom pas beskeidenheid by uitsprake.  Daarom moet daar fyn gesif word om by die ware feite van die wetenskap uit te kom, en dít moet dan gerespekteer word;  nie die opinie van 'n mens nie.
 2.    Dat God die Bybel vir ons daargestel het.  Hy het die wetenskap sowel as die Bybel vir ons gegee.  Daarom kan die twee nie in stryd of in botsing met mekaar wees nie.  Nou is dit die taak van die mensdom om die sinkronisasie tussen die twee te vind.  Ek moet erken dat ek hier toe slaan.  Die teologie, nie teoloë nie, sal hier vir ons leiding moet gee.  Ek glo dat ons ons interpretasie en Skrifuitleg moet aanpas by die bewese wetenskap.  Anders rangeer ons onsself op 'n syspoor en verval ons in kreasionisme.  Die Bybel is immers nie 'n wetenskaplike handboek nie.  
Desgelyks moet die wetenskap ook erken dat hy nie alles weet nie.  Iewers moet die wetenskap ook daarby uitkom om minstens te erken dat daar 'n Groter Intellektuele krag en plan agter alles sit.  Dinge kon nie net "toevallig gebeur" soos wat dit gebeur het nie.  Die gevolg kan tog nie groter as die oorsaak wees nie.  Iewers, of liewer oral, is daar die wonderwerkende beplanning en ingryping van God wat hierdie ongelooflike ontwikkeling in die skepping moontlik gemaak het, en dit steeds moontlik maak.
Ferdie, ek is nie so ver geleerd soos jy nie.  Dit is maar die eerlike gewaarwordinge in my hart. Ek bly oop vir oortuiging.  Daarby bly my simpatie by jou standpunte.  Ek staan by die belydenisskrifte van ons kerk.  Ek glo (om maar net enkele hoogtepunte te noem) dat God die Skepper, Vader, Koning is.  Ek glo dat Jesus Christus deur 'n wonderlike ingryping van God uit die maagd verwek is.  Ek glo dat Hy die Seun van God is, dat Hy vir ons sonde gesterf het, dat hy deur 'n wonderlike ingryping van God uit die dood opgewek is en opgestaan het, en na die hemel opgevaar het.  Hoe dit gebeur het en waar Hy nou is, hoort tot die verborgenhede van God.  Deut 29:29.  Wat wel aan my geopenbaar is, is dat Hy aan die regterhand van die Vader is, én ook in my, en ander christen-gelowiges lewe.
 God is immers God.  Hy is almagtig en kan dinge doen teen die normale verwagting van mense en die wetenskap.  Hy het die wetenskaplike wette gemaak.  Hy is nie aan die wetenskaplike wette ondergeskik nie.  Daarom kan hy dit ook (tydelik, vir 'n oomblik) ophef en so optree dat dit vir die menslike oog 'n wonderwerk is.  Ek het altyd vir my katkisante die voorbeeld van 'n verkeerskonstabel gebruik.  Hy kan die spoedgrens oortree in uitvoering van sy werk.  Die wet word vir hom (vir 'n oomblik) opgehef.  Daarna is hy weer aan die wet ondergeskik.  God het byvoorbeeld in die hemelvaart vir Jesus die wet van swaartekrag opgehef sodat hy in die hemel kom opvaar.  As 'n regering 'n ding wil doen, maar dit is teen die wet of selfs teen die grondwet, dan kan die regering die wet (of die grondwet) verander of ophef.  Later kan hy dan die wet weer instel. Dit kom alles daarop neer dat ek glo dat God by magte is om wonderwerke te doen.
 Met hierdie geloofsoortuiginge lewe ek met rus en vrede, en volle geloofsekerheid, in my 'n wonderlike geluksalige lewe wat wil uitstyg tot die eer van sy Naam en tot getuienis vir ander. Na alles is ek baie dankbaar dat jy die boek geskryf het en uitgee.  Dit is 'n tsunami-waarskuwing vir die kerk.  Die kerk mag dit nie ignoreer nie.

18 Desember 2011 - Dr Henry Williams, voormalige NG predikant met 'n PhD oor Prof Johan Heyns lewer kommentaar oor Opgestaan:

Picture
Op die geloofsterrein het ek Ferdie Mulder sowel as Julian Muller se boeke gelees met die titels “Opgestaan” en “Om te mag twyfel”.  Vanuit hulle botsing aan die Teologie Fakulteit by Tukkies is hulle in hierdie sage die teenoorgestelde eksponenente  van ‘n groot teologiese debat in die kerk, myns insiens wereldwyd, wat besig is om ook die kerk in sy fondanente te skud. Ek sien dit soos ‘n beer wat ‘n groot klip opgelig het en ‘n miernes ontbloot het. Die miere begin skarrel en hardloop, elkeen in sy eie rigting, sommiges in sirkels. Vir niemand is daar meer rus nie. Almal moet nuwe posisies inneem. Almal hoop om in die proses geestelik te oorleef. In die proses van die geskarrel raak mense los van die kerk. Elkeen is op sy eie.
Niemand in die kerk was sterk genoeg om te keer dat die beer die klip oplig wat die mierkolonie in vrede laat lewe het nie. In die werklikheid is ek ook ontnugter deur wat aan die gebeur is. Ek weet lankal dat niemand in die kerk sterk genoeg is om die klip op sy plek te hou nie. Ek is ook aan die skarrel in my gemoed. Moet ek glo wat die kerk vir my se? Moet ek, as predikant, verkondig wat die kerk vir my sê om te verkondig? Wat ek sien gebeur in die Ferdie/Julian sage (as ek dit so mag noem) is die goedgelowige student wat met sy dosente te doen en hulle insigte en standpunte begin bevraagteken vanuit kinderlike oortuiging dat Jesus werklik en histories uit die graf opgestaan het.  Ek het simpatie met Ferdie wat hom teen die mag van die Ned Geref Kerk vasgeloop het. Twee ringe en die kuratorium by Tukkies. Hy noem in sy boek die name van verskeie rolspelers wat sy standpunte geopponeer het en ek merk dat baie van dié name tans leiersposisies in die kerk beklee, veral na afloop van die Algemene Sinode in Boksburg.
As mens die klag van oneerlikheid en sy skorsing op grond daarvan beoordeel dan mis hulle, myns insiens, die punt. Ferdie het geboet vir sy dapper optrede om die gevestigde instellings aan te vat en hulle het hom tydelik weggejaag, maar die saak waaroor dit gaan, naamlik die opstanding van Christus, sal keer op keer terugkeer en vierkantig voor die kerk en geloofsgemeenskap kom staan en uiteindelik sal elkeen hom of haarself daaroor moet verantwoord. Dis soos die Berhar Belydenis. Hy wil nie weggaan nie en wil nie verdwyn nie.
In sy boek stel Julian Muller ons bekend aan ander dimensies van die wêreld waarin ons leef en almal van ons is produkte van hierdie post modernistiese omgewing waar ou Bybelse waarhede met nuwe wetenskaplike kennis gekonfronteer word. Ek het sy boek ook met ‘n openheid en simpatieke gesindheid probeer lees. Om die waarheid te se ek kan met baie daarin identifiseer, veral vanuit my eie persoonlikheidsamestelling. My standpunt bly egter gebaseer op 1 Kor 15v14 wat sê: “En as Christus nie opgewek is nie is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud”. As ek die geloofsbelydenis opsê dan verstaan ek die opstanding van Christus as letterlik met alles wat die Bybel my oor God se wonderwerke daarmee saam leer.  Ek wil graag getuig dat ek in ‘n omgewing leef en werk waar baie mense van verskillende nasies en agtegronde saam is en saam werk. Ek probeer baie waarneem wat mense se dryfvere en motiverings is om te leef en dinge te doen. Mens kan diep nadink oor die filosofiese en teologiese redes vir mense se bestaan en verklarings probeer vind daarvoor. Ek is egter daarvan oortuig dat die skema van die Heidelbergse Kategismus steeds die Bybelse boodskap die beste verwoord in sy skema van Sonde, Verlossing, Dankbaarheid – dus hoeveel dinge moet jy weet om uiteindelik getroos en salig te kan lewe en sterwe, dan is die antwoord drie dinge: naamlik hoe groot my sonde en ellende is, hoe ek daarvan verlos kan word en hoe ek my Skepper daarvoor dankbaar moet wees. Dit maak vir my die verskil tussen ‘n blote bestaan, waarvan ek baie mense om my sien, ryk arm, eenvoudig en geleerd – mense wat net bestaan. Dit is dikwels mense wat sonder vreugde in hulle lewens is. Daarteenoor is daar mense met ‘n roeping, ‘n doel (purpose is die Engelse woord). Dit is mense met ‘n blyheid en innerlike vreugde en ‘n gefokusde lewe wat sin maak en sin gee aan almal rondom hulle. Dis wat die versklil maak en waarna ‘n mens, myns insiens, moet strewe.
* Ons is dankbaar vir Dr Williams se indrukke. Sy interpretasies kom uit 'n familie nuusbrief wat ons elektronies ontvang het.

7 Desember 2011 - 'n Anonieme NG dominee met BTh en MDiv grade by Tukkies (met lof) lewer kommentaar oor Opgestaan: 

Picture
Beste Ferdie
 Ek was nou die afgelope week in ...  en het nou eers jou boek, Opgestaan in die hande gekry en is besig om dit te lees. Ek moet sê dit maak geweldige emosies by my gaande! Sommer net so 'n paar  los opmerkings :
 1. Ek het jou al gesê, maar jou aksies en die reaksies daarop wys merkwaardige ooreenkomste toe ons ook as studente in die laat tagtigerjare beswaar gemaak het ... teen dwalinge op die Fakulteit. Een van ons teikens was ook Jurie le Roux. Hy het toe al gesê dit was vir hom 'n bevryding om los te kom van die kettings van die  Gereformeerde leer!'
 2. Ek sou dus dink dat mens die agtergrond van die gebeure veel verder terug kon neem. Die glybaan na totale relatiwisme het (toe) reeds onomkeeraar in die NGK begin ... Die eintlike kwessie is Skrifbeskouing en Hermeunetiek. Die uitsprake oor byv. die opstanding, wonders, Satan ens is maar net 'n noodwendige uitvloeisel van die hermeneutiek wat al in ons kele afgedruk is. Terloops, reeds in ons tyd is die bestaan van Satan as persoon bevraagteken - Cornel du Toit!
Ek moet sê ek het nooit 'n positiewe beeld van die opleiding op Tukkies gehad nie. Ek het ook my twee grade met lof geslaag, maar voel tot vandag nog dat die opleiding uiters gebrekkig was - geestelik sowel as akademies! Ons het geen rolmodelle gehad nie!
 3. Die hartseer is, dat behoudende evangeliese predikante geslaap het, toe die tekens van afval destyds al duidelik sigbaar was! 
 4. Dit is goed dat jy 'n versoenende houding in jou boek handhaaf, maar...
4.1. Ek dink jy is dalk soms te verskonend! Die foute wat jy (en ons ook as onervare studente) gemaak het, is werklikwaar onbenullig in die lig van die gruwelike doelbewuste aanslag teen die geloof wat eens aan die heiliges oorgelewer is!
4.2. Daar is ook 'n groot onderskeid tussen teologiese verskille, beklemtonings en nuanses en kwaadwillige dwaalleer! Oor verskille  (doop, soewereiniteit van God, kerkregering) kan ons liefdevol gesels, maar dwaalleraars wat baie se geloof vernietig, moet baie sterk aangespreek word. Paulus soos jy weet was baie kru met hulle in Galasiërs...
 5. Ek sien jy het ook uit die NGK bedank ... Daar is soveel kosbare skape van die Here in die NGK wat honger ly ... maar op die lang duur sien ek geen toekoms vir die NGK tensy daar 'n ommeswaai by die Fakulteite gaan kom nie. Of tensy mens 'n alternatiewe stroom binne die NGK met sy eie opleiding begin nie. (Hans Hauge van Noorweë se bediening binne in die verrotte Lutherse kerk van sy tyd is n inspirerende voorbeeld - dalk kan jy bietjie daaroor gaan oplees)
Mag die Here van sy kerk ons wysheid gee wat om te doen in hierdie laat uur! 
Mag ons die Opgestane Jesus dieper leer ken!

13 November 2011 - Boeta du Plooy, van Doxa Deo, Pretoria

Picture
Goeie dag Ferdie,
Ek salueer jou dat jy die moed van jou oortuiging gehad het om op te staan teen die dwalinge binne die teologiese fakulteit van Pretoria Universiteit. Jou boek lees baie gemaklik en nooit terwyl ek die boek gelees het, het ek enigsins gevoel ek verloor jou nie ... Ek het in Bloemfontein  grootgeword, daar deeltyds studeer in ʼn finansiële rigting. Na veertig jaar in die NG Kerk, vandat ek verkies kon word was ek op die kerkraad as diaken en ouderling. Na veertig jaar ontmoet ek eers werklik Jesus Christus en ontvang ek die wedergeboorte ... Na sowat twee jaar wou ek die NG Kerk verlaat, want ek kon nie meer saam met die dwalings en uitsprake van baie Ds. leef nie. My vrou het my egter oorreed om te bly, want sy het vir my gesê ons moet daar bly om ʼn verskil te probeer maak. Nodeloos om te sê dat na vyf jaar ek soveel teenkanting ontvang het dat ek uit die NG Kerk bedank het voordat hulle my uitskop. Ek wil nie woorde in jou mond lê nie, maar ek dink dalk het jy toe jy die mense aangekla het, ook gevoel dat jy dalk ʼn verskil kon maak. Dit was egter in jou geval en in my geval onmoontlik. Vandag woon ek in Gauteng en my seun en my dogter woon ook hier en almal aanbid in DOXA DEO. Aan my vrou se kant is al haar famielie uit die NG Kerk.
Met die lees van jou boek het ek weereens besef dat daar geweldige geestelike korrupsie binne die teologiese fakulteit is ... As ek na dit wat jy in jou boek sê van die dinge wat deur van die proffesore, doktore en lektore kweit geraak is, dan besef ek dat die Woord die antwoord gee. Ek sal niks sê of iets glo wat iemand anders gesê het, as ek dit nie aan ten minste twee getuienisse uit die Woord kan bevestig nie. Hierdie persone wat jy in jou boek noem was, glo ek vasgevang in hierdie dwaalleringe dat hulle hul geloof versaak het en teruggeval het in die wêreld.
Ek wil egter weer sê “well done” met die skryf van hierdie boek, ek dink jy moes deur baie traume gegaan het wat ek glo jou ook geinspireer het om hierdie boek te skryf. Ek dink ek is een van jou groot adverteerders hier in SA, want ek beveel jou boek by al my vriende, familie en mense wat saam met my werk, aan. Ek hoop en glo dat hierdie boek mense se oë sal laat oopgaan!!!
Die Here seën jou en jou gesin.
Boeta du Plooy

7 November 2011 - Dr Jaco Putter, van NG gemeente Pietersburg-Noord oor Opgestaan:

Picture
Die opstanding van die Here Jesus het in sy eie konteks ‘n geweldige stryd ontketen. Hierdie stryd is lank nog nie verby nie.  Om deel te neem aan die gesprek oor die opstanding is vir my as persoon opwindend om die eenvoudige rede:  Die Here Jesus het opgestaan!
Die Ferdie wat ons ontmoet in die boek Opgestaan is ‘n baie ryper mens en dit is duidelik sigbaar dat Ferdie dieper in sy persoonlike- en teologiese denke oor die opstanding ontwikkel het.  Ferdie verwoord op ‘n besondere manier sy eie reis van seerkry, groei en teologiese verdieping.   Dit is vir my duidelik dat die boek twee hoofmomente beskryf: Ferdie se persoonlike geloof en sy stryd wat hy gehad het in die teologiese fakulteit.  In die boek Opgestaan waardeer ek die openhartigheid waarmee Ferdie skryf asook die feit dat hy eerlik is oor sy eie posisionering en vertrekpunte.  Daar kan sekerlik baie vrae gevra word oor die rol van die kerk en die wyses waarop die NG Kerk gehandel het met Ferdie in terme van die prosesse waarby hyself en andere betrokke was.  Ferdie beantwoord egter hierop met eerlikheid, sonder haatspraak en volle oortuiging.  Dit sal inderdaad ‘n betreurenswaardige moment in die geskiedenis van onse kerk wees as die opstanding van Jesus nie die regmatige plek in ons teologiese fakulteite en geloof inneem nie.   
Ferdie poog werklik om op te staan vir dit wat hy glo: Dat Jesus liggaamlik opgestaan het uit die dood en dat hy lewe.  Ek ondersteun Ferdie in hierdie verband.
 Dr. Jaco Putter het sy PhD in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria behaal met professor Julian Müller as promoter. Tans is hy NG predikant by Pietersburg-Noord en ook besig met 'n tweede doktorsgraad in Nuwe Testament by Radboud Universiteit, Nederland.

5 November 2011 - Ferdie Mulder se kommentaar op Dr Willem Nicol se Kerkbode resensie:

Picture
Beste Kerkbode,
Baie dankie dat julle met my geskakel het vir ‘n resensie van Opgestaan. Ek het toe twee boeke gratis vir julle gereel. Vir ‘n groot deel van dr William Nicol se resensie is ek baie dankbaar. Hy het dit reg gekry om saaklik en geballanseerd sy eie interpretasie te gee.
‘n Paar stukkies kommentaar:
Ek was jammer dat hy niks genoem het van die lang aanloop tot al die gebeure in 2005 nie, veral wat betref die prominente en kontroversiele rol wat dr James Kirkpatrick, dr Kobus Gerber, dr Ben du Toit, dr Flip du Toit en prof Andries van Aarde in die verhaal speel nie. Dan is dit ook in besonder jammer dat die groot deel oor prof Jurie le Roux ook nie genoem is nie.        
Die ander lyn in die boek wat mens gehoop het hy sou noem, is die vraag oor of daar binne die hart van ons belydenis werklik ruimte moet wees vir spesifiek die Nuwe Hervorming en Jesus Seminar se ontkenning van Jesus se letterlike opstanding? My indruk was dat prof Muller ja hierop geantwoord het toe regter Swart hom daaroor uitgevra het by die Tukkie verhoor. 
Maar dalk die belangrikste deel wat mens gehoop het genoem sou word, was dat die regter by Tukkies in sy uitspraak gese het dat geen sinode verklaring of belydenis voorgele was as bevestiging dat Jesus histories en letterlik uit die dood opgestaan het nie. Met dit o.a. as agtergrond is ek toe geskors. Die komissie het egter die 2003 ASK verklaring voor hulle gehad wat die histories en letterlike opstanding van Jesus spesifiek bely, en ook die dele in die belydenis wat na die liggaamlike opstanding verwys. Dit was geignoreer.
Ek was verras dat Kerkbode vir dr Nicol gevra het om die resensie te doen gegewe sy jarelange vriendskap met prof Julian Muller en Tukkies se Teologie Fakulteit, asook (en baie belangrik) die kontroversieele rol wat hyself in Opgestaan opneem. Op bl 20 en bl 152 vertel ek die verhaal van hoe dr Nicol na afloop van ‘n lesing deur prof Muller by Skuilkrans NG Kerk in 2003 die opmerking gemaak het dat enige iemand nou predikant in die NG Kerk kan word, ook diegene wat nie meer in Jesus se letterlike opstanding glo nie.
Maar natuurlik besef mens darem ook dat dit onmoonlik vir ‘n resensent is om in ‘n honderd of so woorde ‘n boek van 344 bladsye omvangryk te bespreek. Nogtans baie dankie aan dr Nicol vir ‘n groot deel van sy resensie wat hartlik en tegemoedkomend was!

31 Augustus 2011 - Dr Johann Fourie van Dinamus Gemeenskapskerk oor Opgestaan:

Picture
Ferdie se boek weerspieel die soeke na en stryd vir Bybelse waarheid in 'n teologiese landskap waar waarheid relatief is en meermale bepaal word deur die interpreteerder as deur die teks.  Hierdie stryd is so oud soos tyd en soos Jesus moes stoei vir die waarheid in sy tyd met Fariseers moet ook ons opstaan vir die Waarheid, vir Hom wat vir ons opgestaan het.
Dr. Johann Fourie bedank in 2005 uit die NG Kerk waarna hy Dinamus Gemeenskapskerk [http://www.dinamus.co.za] begin het. In 2010 behaal hy sy PhD in Nuwe Testament aan Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland.

28 Augustus 2011 - Eckard Briedenhann skryf 'n omvangryke resensie van Opgestaan:

Picture
1. Ek het sopas die oud Tukkie Teologie student, Ferdie Mulder, se boek ‘Opgestaan’ klaar gelees.
2. Ferdie is die oud NG kerk student wat in 2005-2006 groot opspraak verwek het in beide die kerk en die media toe hy professore Dirk Human, Jurie le Roux en Julian Muller van dwaalleer aangekla het.
3. As gevolg van sy aanklag was drie verhore gehou
(a) ‘n juridiese dissiplinêre verhoor op inisiatief van die Fakulteit Teologie se NG Kerk kuratorium,
(b) kerklike ringsondersoeke deur die ringe waarbinne elk van die professore geval het en ‘n
(c) dissiplinêre verhoor by Tukkies aanhangig gemaak deur die drie professore en professor Cas Vos.
4. Die Juridiese verhoor het Ferdie skuldig bevind aan oneerlikheid. Die Kerklike ringsondersoeke het al drie professore onskuldig bevind op onder meer aanklagte oor hul interpretasies van die opstanding van Jesus. Die Dissiplinêre verhoor het hom ook skuldig bevind op al die aanklagte teen hom en hy is op grond daarvan toe lewenslank geskors uit die Fakulteit Teologie nadat hy sy meestersgraad voltooi het.
5. Dié boek blyk ‘n poging van Ferdie te wees om sy kant an die saak te stel, ‘n kant waarsonder ‘n mens nie ‘n volle, gebalanseerde en regverdige prentjie van al die gebeure sal kan kry nie, omdat .... Om verder te lees laai die PDF af:

28_augustus_2011_opgestaan_resensie_deur__eckard_briedenhann.pdf
File Size: 285 kb
File Type: pdf
Download File

21 Augustus 2011 - Teoloog met PhD by Unisa wat anoniem wil bly oor Opgestaan:

Picture
Ferdie, die boek het my gehelp om die agtergrond vanuit jou perspektief te verstaan. Diegene wat jou ondersteun gaan jou boek waardevol ag. Dan is daar baie ander wat gehelp sal word om jou kant van die verhaal te lees. Dit is belangrik. Dit kos moed om so 'n storie in die openbaar te vertel. Ek het egter ervaar dat jy voortdurend probeer het om nie beledigend te wees nie. Ek het baie gewonder wat ek in jou situasie sou gedoen het. Ek self het al my nek 'n paar keer uitgesteek as ek voel dat 'n beginselsaak aangetas word. Ek weet wel dat ek nie vir 'n oomblik twyfel dat Christus wel opgestaan het op 'n wyse wat gemaak het dat ek vandag kan getuig van die ewige lewe nie. Sterkte.
Ons is bewus daarvan dat die geloofwaardigheid van 'n anonieme plasing laer is as een waar 'n persoon sy of haar naam bysit.  

14 Augustus 2011 in Cambridge - Dr Gerhard Augustyn, voormalige PhD student van Prof. Riempies Prinsloo

Picture
(GRA- Genootskap van Regte Afrikaners – (Taalbeweging)-dag!)
        Wat kan 'n produk van die klas van 1981, vir 'n jonger man geproduseer deur dieselfde fakulteit so 20 jaar later, met 'n uitkoms soos neergepen in Opgestaan, in alle eerlikheid sê? By my bly dit in die gedagte opspring: Hier is (nog) 'n verhaal wat saakmaak! Net soos wat die groot verhaal van hoe die Joodse Rabbi die Christus van die Kuriake (die Here s'n, die kerk) geword het, saakmaak, so maak hierdie een ook (weer) saak. Want hierdie stryd tussen kerkmense om die verstaan van woord en wonder, wat op ander plekke en tye al soortgelyk plaasgevind het, het nou hierin 'n Afrikaanse weergawe, in 'n Afrikaanse kerk, in 'n tyd van erge stroomversnelling in die Afrikaner-waters. Ferdie se storie maak saak, vanweë:
- die eerlikheid waarmee die gebeure oorvertel word;
- die hantering van die wete dat die wat Jesus se verhaal wil interpreteer moet weet dit sluit ook in interpretasie van  hulleself, tot oopkrap toe;
- die openheid vir die ontvangs van alle inligting wat kan help om te verstaan hoe daar dan kerk tot stand gekom het;
- die bereidheid om die data te volg waar dit heen lei;
- die moed om in hierdie eeu te beweer dat daar meer is as net materie as dinge om verstaan roep, en die oortuiging om te speur na die voller verduideliking.
My hart en verstand kon dìt waardeer in sy relaas:
* daarin is nie 'n histeriese reaksie asof van die letterkneg-Bybelaanhaler op die “ondersoek- alle-dinge”-eise van die teologiese hermeneutiek nie;
* eweneens is daarin ook nie skromerige kniebuig voor oorwoekering met historiese raamwerke wat dan kwansuis nou die “algemeen-Christelik geloof” as blote gemeenskaps-sameswering sou ontbloot het nie.
In ons tyd waarin daar hulle is wat onder die dwang van Darwin-en-Dawkins-paradigma beweer dat hulle in eerlikheid God alleen maar binne die natuurlikheid kan (mag?) bedink, en daar Hom skyn te kry in die “verrassing” en “onsekerheid” van die “duskant-teologie” en die “post-teïsme”, in so 'n tyd bring Ferdie ook sy eerlike soektog tot ons aandag, waarin hy myns insiens as minder die dom-astrante vals-sekure aanklaende teïs voorkom en meer as die waarheidsoekende ondervraende teïs wat verras kan staan oor die onmoontlike moontlikheid van die Verheerlikte Liggaam.
Die gewaarwording in my gelaat na die laaste bladsy en die reis deur die tyd en drama heen, oor wat daardie geloof in 'n mens in stand hou, is soos verwoord in die metafore gekies vir die Griekwa-psalm (Randall Wicomb en Hans du Plessis) gebou op Psalm 8. So, een van die klas van 1981 ervaar dat een van die klas van 2006 weer heenwys na die aard van die Trinitêre: “Want selfs in hierie droë annerlikeit / groei die gemsbokkomkommer van U heerlikeit”.

3 Augustus 2011 - Etienne Schoeman, PhD Promovendus in Nijmegen, en voormalige NG predikant vir 24 jaar

Picture
"Dit is so `n relevante boek vir ons dag! Dis noodsaaklik dat ons duidelik en helder sê die opstanding van Jesus is dié skarnier van ons geloof – as dit nie meer daar is nie dan val alles inmekaar. 
Hierdie is nie `n boek wat jy gaan begin lees en wat jou twee weke gaan neem om klaar te maak nie. Nee, ek het een aand laat begin lees en gedink ek gaan so entjie lees en dan later weer aangaan, maar heellaas! Ek het nooit daardie nag geslaap nie. Ek kon die boek nie neersit nie. Dit het my van begin tot einde geboei. Dit het my geraak hoe openhartig en eerlik Ferdie hierdie gebeure en ook sy denke en hart met die leser deel. Ek het die voorreg om vir Ferdie te ken en ook die passie en vuur van sy roeping te deel. Die een vraag wat elke Christen-gelowige duidelik en helder moet beantwoord en moet weet waar hy/sy staan is die vraag oor Jesus se liggaamlike opstanding en wat dit beteken."
Etienne Schoeman, PhD Promovendus in Nederland, leraar by Enroute geloofsgemeenskap [http://enroute.org.za/] en voormalige NG predikant vir 24 jaar. 

18 Julie 2011 in Nijmegen: Roedolf Botha, PhD Promovendus en gemeente leier by Dialoog in Pretoria

Picture
      “Indien Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie is Hy maar net een van baie godsdienstige leermeesters en is daar niks unieks aan Hom nie. Dan is Hy nie die Seun van God nie en is die prentjie wat Hy ons van God gebring het heel moontlik nonsens! Indien Jesus nie opgestaan het nie dan is daar geen hoop by ’n oop graf nie en glo ons verniet! Dis die sentrale tema van Ferdie Mulder se nuwe publikasie “Opgestaan” wat ook insiggewende nuwe lig laat val op die gebeure tussen 2001-2006 by die Universiteit van Pretoria.
Daar’s egter nog twee dinge wat my laat hou van hierdie publikasie:  
 1) Die eerste rede is dat Ferdie ’n kritiese denker is wat geensins op sleeptou geneem word deur fundamentalistiese strominge nie, maar hy probeer werklik denkend en verantwoordelik omgaan met die Bybel, tradisie en wat in sy eie persoonlike lewe afgespeel het. 
 2) Die tweede rede is die gesindheid waarmee die boek geskryf is. Daar is geen bitterheid nie, en die verhaal en besprekings van die ondersoeke getuig van genuanseerdheid en is versoenend van aard. Daar is gepaste belydenis en Ferdie is uiters eerlik oor waar hy self die bal mis geskop het. Sy verhaal is uit en uit die moeite werd om te lees. Dis ’n menslike verhaal, ’n verhaal van eerlike worsteling en foute, maar ook oortuiging en geloof!”
Roedolf Botha, PhD Promovendus, Nijmegen, Nederland; Gemeente leier by Dialoog in Pretoria [http://dialoognet.co.za/]; en voormalige predikant in die NG Kerk.

 Junie 2011 - Ds Jaco Thom, bekroonde Christelike skrywer van meer as 25 boeke

Picture
Ek het Ferdie se verhaal, en sy kommentaar oor presies wat gebeur het wat uiteindelik tot sy skorsing uit die fakulteit gelei het, besonder leeswaardig, baie interessant en uiters ontstellend gevind. As Luther bykans vyf eeue gelede gesê het: ‘Hier staan ek, ek kan nie anders nie,’ is dit een ding, maar as ‘n teologiestudent vandag nog genoop voel om dit te doen, móét die gevaarligte helder brand. Ek wil elke gelowige aanmoedig om Ferdie se verhaal te lees. Ons bely immers almal dat Jesus uit die dood opgestaan het."
Ds. Jaco Thom, bekroonde Christelike skrywer van meer as 25 boeke (insluitende Soos ’n Engel van die Lig: ’n Eindtyd roman) en predikant van die NG gemeente Toringkerk in die Paarl.

Junie 2011 - Dr Martin Holdt, Baptiste predikant en bekende radio kommentator

Picture
Ferdie Mulder se verlange is dat ware hervorming en ’n terugkeer na Bybelse waarhede en standaarde in die NG Kerk moet plaasvind … Hy doen die kerk ’n reuse guns in sy deeglike blootstelling van gebrekkige teologiese opleiding. Hy besef die waarheid van John Stott se stelling: ‘In every country the church is a reflection of its seminaries. All the church’s future pastors and teachers pass through a seminary. It is there that they are either made or marred. Either equipped and inspired or ruined. Therefore, we should set ourselves to capture the seminaries of the world for evangelical faith, academic excellence and personal godliness. There is no better strategy for the reform and renewal of the church.’ Mulder se boek is bedoel om die ware situasie te ontbloot met die hoop op so ’n herstel van historiese en gereformeerde waarhede. Mag die boek sy edele doel bereik.”
Dr. Martin Holdt, Radiokansel kommentator en bekende predikant binne Calvinistiese Baptiste Kerke in Suid Afrika.


Create a free website with Weebly